
Lizane Louw (links) en Gita Claassen van Prins Albert op die strand in Bali, met hul kokosneutdrankies. Foto: Verskaf
Deur Marlene Malan
HULLE sou maklik ontvoer kon word of in die kloue van ’n mense- of orgaanhandelgroep kon beland.
Dis die moontlikhede waaraan die vriendinne Gita Claassen (29) van Prins Albert en Lizané Louw (40), voorheen van Langebaan en deesdae van Taiwan, dink as hulle herleef wat vroeg in Julie met hulle op die gewilde Kuta-strand in Bali gebeur het toe hulle ’n gedokterde kokosneutdrankie gedrink het. Terselfdertyd kan hul “aaklige” ervaring ook as ’n waarskuwing vir ander toeriste dien, sê hulle.
Claassen en Louw – albei fotograwe – was saam met vakansie en wou vir oulaas op die mooi strand ontspan en foto’s neem. Claassen is ’n reisfotograaf en Louw, jare lank ’n fotograaf by Media24 , is ingeskryf vir ’n meestersgraad in fotojoernalistiek aan die Konrad Adenauer Instituut vir Joernalistiek in Manila in die Fillipyne. Kuta is ’n gewilde toeristeaantreklikheid.
Hulle het R97 betaal om strandstoele te huur en die alkoholvrye drankie, wat in kokosneute bedien word, te geniet.
Claassen het eerste oor die smaak gekla. “Dit was suur, maar ek het gedink dis omdat die kokosneute groenerig gelyk het”. Sy het stadiger as Louw gedrink, omdat sy die hele tyd selfies geneem het van dié onvergeetlike toerisme-ervaring. Louw weer was dors en het alles vinnig opgedrink.
“Ek het skielik warm begin voel,” sê sy.
Volgens Claassen het Lizané see toe geloop. ’n Man het skielik verskyn en met haar begin praat. Hy het hom as ’n branderry-instrukteur voorgestel.
“Hy het by ons kom sit. Ons het hom nie as bedreigend ervaar nie, en dus nie weggejaag nie.”
Claassen het in dié stadium nog sowat twee-derdes van haar drankie oorgehad. “Ek het gesien hoe die man Lizané dophou,” vertel Claassen. “Ek het gevoel asof alles ver weg is, amper eufories.”
“Gita, hier is fout. Ons moet nou loop,” het Louw skielik gesê.
Volgens Claassen “was ek paniekerig. Ek het gevoel ek loop in ’n tonnel. Lizané het gesê haar mond is lam en haar ledemate swaar. Ek moes haar sleepdra na ons blyplek. Sy het nie ’n idee gehad waar sy was nie.”
Die volgende dag het Louw se lyf kwaai gepyn en het sy gehallusineer. Die twee vroue het na die Internasionale Hospitaal in Nasu Dua gegaan.
“Daar was drie dae waarvan ek nie veel onthou nie. Ek was baie deurmekaar,” vertel Louw. “ ’n Dokter het my op ’n drup gesit en gesê my liggaam het hard teen gifstowwe binne my baklei.”
Die twee vroue vertel hul droomreis het in ’n nagmerrie ontaard. “Dinge kon lelik skeefgeloop het,” sê Louw. “Ek weet nou nog nie hoe ons van daardie strand af gekom het nie. Ek weet nie wat die mense se plan was nie. Hul web het al nouer om ons begin span. Dis ’n aaklige gedagte dat so iets helder oordag kan gebeur. Ek reis al vandat ek agttien is en is al deur omtrent vyftig lande. Ek het gedink ek is straatslim.”
Louw vertel hulle was bang om na die polisie of selfs hospitaal toe te gaan. “As jy in Bali met enigiets in jou sisteem gevang word, is jy in groot moeilikheid. Hulle sit jou in die tronk en gooi die sleutel weg. In Asië is mensehandel en prostitusie volop. Hulle verkoop jou organe ook. Ek wil nie eens daaraan dink nie.”
Louw sê sy is baie dank aan Claassen verskuldig. “Die tyd wat sy aan selfies bestee het om die perfekte toerismefoto te neem van haar op ’n Bali-strand met ’n kokosneut in die hand, het ons lewe gered.”
The post Hallusinasies en groot skrik ná drankies in Bali appeared first on DieHoorn.