Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Samwu-lede eis Ronnie se kop

$
0
0

Deur Liezl van Niekerk

Ontstoke vakbondlede steek hul plakkate voor die munisipale gebou op Oudtshoorn aan die brand terwyl polisielede ’n kordon voor die ingang tot die munisipaliteit vorm.

Ontstoke vakbondlede steek hul plakkate voor die munisipale gebou op Oudtshoorn aan die brand terwyl polisielede ’n kordon voor die ingang tot die munisipaliteit vorm.

ONTEVREDE lede van die munisipale vakbond Samwu asook Cosatu-ondersteuners het Dinsdag aan ’n vreedsame protesoptog van die munisipale depot in Dassieweg tot by die munisipale gebou in Voortrekkerweg op Oudtshoorn deelgeneem.

Te oordeel na die plakkate wat van die deelnemers gedra het, was talle ontevrede met die huidige waarnemende munisipale bestuurder van die Groter Oudtshoorn, mnr Ronnie Lottering. We don’t want Ronnie Lottering as MM het verskeie van die plakkate gelui.

“Ons soek Lottering weg!” en “Lottering moet teruggaan Paarl toe!” was van die krete wat die mense luidkeels laat hoor het terwyl hulle voor die munisipaliteit vergader het.

Samwu wou ná die optog ’n memorandum aan die burgemeester, mnr Gordon April, oorhandig, maar is egter ingelig dat April in George is. Toe hulle daarna gevra het om met Lottering self te praat, moes hulle hoor dat Lottering ook in George was. Vakbondlede het daarop plakkate voor die munisipaliteit aan die brand gesteek.

Die onder-burgemeester, mnr Vlancio Donson, het later die oggend die memorandum in ontvangs geneem.

Donson het op sy beurt ’n brief wat weliswaar deur Lottering onderteken is, aan hulle oorhandig ingevolge waarvan hul vrae Maandag om 08:00 by ’n vergadering beantwoord sal word.

Luidens die memorandum neem die senior bestuur van die munisipaliteit en die regerende politieke party nie arbeidskwessies in die munisipaliteit ernstig op nie. Daar word verwys na twee geleenthede vanjaar waar Samwu die senior bestuur na vergaderings genooi het om sekere aangeleenthede met hulle te bespreek, maar dat hulle nie die vergaderings bygewoon het nie. By nie een van die geleenthede is verskoning aangebied nie.

Die memorandum verwys ook na griewe en eise wat op 24 Julie skriftelik aan April oorhandig is en waarop geen terugvoer ontvang is nie.

Samwu waarsku voorts munisipaliteit dat indien nie op hul griewe gereageer word nie, dit op ’n staking kan uitloop.

Daar word voorts geëis dat ’n wedersydse ooreenkoms rakende die aanstelling van werkers aangegaan word en dat werkers wat langer as ’n jaar by die munisipaliteit werk, permanent aangestel moet word.

Hulle vra ook dat Lottering as waarnemende munisipale bestuurder verwyder moet word en terugkeer na die posisie as bestuurder korporatiewe dienste waarin hy oorspronklik by die munisipaliteit aangestel is.

Hulle eis voorts dat die munisipaliteit moet ophou om werkers met dissiplinêre optrede te “straf” vir hulle “eie politieke gevegte” en ander agendas.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434