Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Dán sal Stoffels hof se bevindings aanvaar

$
0
0

DAAR is sedert Dinsdag as volg op regter Ashton Schippers se uitspraak gereageer:
• Stoffels het gesê hy bestudeer die bevindings van die hof saam met sy regspan om te besluit of hy daarteen gaan appelleer.

Volgens hom sal hy die bevindings van die hof aanvaar nadat dit bestudeer is en daar gevind word dit is ingevolge die wet korrek (“if found to be correct in law”).

• Die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, mnr Anton Bredell, het Schippers se uitspraak verwelkom.

Volgens hom bied die uitspraak die meerderheid raadslede nou die geleentheid om ingevolge die ordereëls wat raadsvergaderings op Oudtshoorn beheer, te vra vir ’n raadsvergadering waar mosies van wantroue in die speaker, burgemeester en onderburgemeester kan dien.

“Ek beskou die hofuitspraak as ’n positiewe uitkoms vir demokrasie in die Oudtshoorn Munisipaliteit.”

Bredell het gesê hy het die Kaapse Hoë Hof genader omdat hy van mening was dat Stoffels onwettig en in sy eie belang optree.

“Die uitspraak het bevestig dat sy optrede inderdaad onwettig en mala fide was en dat alle speakers hul verantwoordelikhede onbevooroordeeld en in goeder trou moet uitvoer of die gevolge moet dra.”

• Die DA/Cope-koukus van die Groter Oudtshoorn het in ’n persverklaring gesê hulle is verheug oor die uitspraak en dat hulle alles in hul vermoë sal doen om te verseker dat die nodige stappe gedoen word om beheer van die raad oor te neem.

“Ons weet dat ons ook namens die meerderheid van die kiesers van Oudtshoorn ‘n beroep op die ANC-koalisie kan doen om te vra dat hulle ook die demokratiese reg van die meerderheid uiteindelik sal respekteer.

“Oortreders behoort nou duidelik die boodskap te kry dat hulle dae getel is en dit hulle duur te staan gaan kom. Die dae is ook getel vir onwettige adviseurs wat R650 per uur betaal word en regslui wat die swaar verdiende geld van die belastingbetalers wil misbruik op onnodige hofgedinge.”

Oor die opdrag van die hof dat Stoffels uit sy eie sak die koste van die eerste twee hofaansoeke moet betaal (de bonis propriis), lui die verklaring: “Dit is ongewoon dat ’n regter ‘n kostebevel teen ‘n ampsdraer of raadslid in sy persoonlike hoedanigheid sal toestaan omdat die wet op die immuniteit van raadslede baie beskerming verleen.

“Die optrede van die speaker was dus van so ‘n onwettige aard dat die regter wel gelas het dat hy nou persoonlik aanspreeklik is vir die koste. Dit sal interessant wees om te sien of die ander twee koalisievennote gaan help betaal en of Stoffels vir die wolwe gegooi gaan word.”

Volgens die verklaring beloop die koste miljoene rande.

• Die ANC het die stryd verloor om die DA-oorname op Oudtshoorn te vertraag, het die onderleier van die DA in die Wes-Kaap, mnr Theuns Botha, in ’n persverklaring gesê.

Hy het gesê die DA verwelkom die uitspraak wat die weg baan vir die party om ’n raadsvergadering te hou, mosies van wantroue in die burgemeester, onder-burgemeester en speaker te laat dien en beheer van die raad oor te neem.

“Vir te lank het die ANC in Oudtshoorn die demokrasie en die oppergesag van die reg ondermyn deur vertragingstaktieke om te verhinder dat die DA wettig en demokraties die raad oorneem.

“Die mense van Oudtshoorn moes te lank ly onder swak dienslewering, swak bestuur en korrupsie onder ’n disfunksionele raad. Die DA is vasbeslote om die uitdaging op Oudtshoorn aan te spreek. Inwoners van die dorp verdien skoon, doeltreffende regering wat hulle eerste plaas.”

• Die bestuurder munisipale kontrakte en regsdienste, mnr Pumzo Tofile, het gesê die munisipaliteit sal oor die pad vorentoe besluit nadat hulle die uitspraak bestudeer het.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434