
Speurder-sers David Matroos van Ladismith het spesiaal Oudtshoorn toe gery om dr Chris-Maré Schoeman se selfoon vir haar te bring. Foto verskaf
Deur Liesel le Roux
DIE oomblik toe ’n selfoondief van Ladismith met ’n gesteelde iPhone foto’s van homself, ’n hond en ’n vrou begin neem, was die spreekwoordelike vet in die vuur.
Die iPhone-selfoon van dr Chris-Maré Schoeman van Oudtshoorn, het die foto’s outomaties opgelaai na die iCloud se fotobiblioteek.
Schoeman, wat intussen weer haar ou iPhone begin gebruik het nadat haar selfoon op 29 September tydens die Seweweekspoort Bergfietswedren gesteel is, kon toe dié foto’s sien.
Schoeman, wat vanjaar gemeenskapsdiens by die Oudtshoorn Hospitaal doen, vertel sy en ’n kollega, dr May Venter, het ná afloop van die wedren op die skouterrein op Ladismith gesit en gesels toe sy agterkom haar selfoon is skoonveld.
“Dit was by my sakkie langs my, maar toe ek weer kyk, was dit weg.”
Sy het met ’n swaar hart dié verlies aanvaar, haar gesteelde foon op die swartlys laat plaas en begin om haar vorige selfoon te gebruik.
Maar toe, sowat ’n maand later, het die foto’s van ’n vreemde man, ’n vrou en ’n hond op haar ou iPhone se geheuekaart verskyn.
Schoeman het kapt Eddie Cronjé, ’n polisiebeampte van Oudtshoorn, daarvan vertel en hy het haar gehelp om ’n klag in te dien en ’n verklaring af te lê. “Daarna het alles so vinnig gegaan. Ek het gehoor die saak is oorgeplaas na Ladismith, en twee dae later het sers David Matroos my laat weet die selfoon is gekry. Hy het dit boonop self op Oudtshoorn kom afgee.”
Schoeman sê sy is baie beïndruk met die diens van Cronjé en Matroos, en is baie bly en dankbaar dat sy haar iPhone teruggekry het!
Venter, wat Die Hoorn van die voorval laat weet het, sê Cronjé en Matroos is “polisiehelde” wat er-kenning verdien.
“Dankie vir Chris-Maré se vroeë Kersgeskenk! Tussen die duisende misdade daagliks, sien ons julle harde werk raak!” sê Venter.
The post Soos die kat kom die selfoon toe terug! appeared first on DieHoorn.