• Moord op Preston Titus

’n Groot aantal inwoners van die Groter Oudtshoorn het Woensdagoggend voor die Oudtshoorn Landdroshof ’n memorandum aan die hooflanddros, Jaco Lambrechts (regs), oorhandig waarin gevra word dat borg nie toegestaan word aan verdagtes in die Preston Titus-moordsaak nie. Die memorandum was die inisiatief van Leon Campher (links), ’n gemeenskapsleier van die Dysselsdorp Advieskantoor. Langs Campher is Ellen Prins, provinsiale ANC-parlementslid. Talle inwoners het T-hemde met Titus se gesig op gedra. (Nog foto’s op bl 11.) Foto: Liesel le Roux
Deur Liesel le Roux
’N TWEEDE MAN is Dinsdagaand ná toegewyde speurwerk in Port Elizabeth in hegtenis geneem in verband met die moord op Preston Titus (47).
Dié 30-jarige man was gister op pad na Oudtshoorn waar hy vandag in die hof sal verskyn.
’n 23-jarige man wat verlede Woensdag saam met ’n 37-jarige vrou op Oudtshoorn in hegtenis geneem is, het intussen gister die tweede keer in die Oudtshoorn Landdroshof vir ’n borgaansoek verskyn.
Die vrou is verlede Donderdagaand vrygelaat nadat daar volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaapse Polisie, nie genoeg getuienis was wat haar met die moord verbind nie.
Titus, ’n stafsersant by die Infanterieskool, is op 1 Desember in sy slaapkamer in sy huis in die weermagbasis op Oudtshoorn vermoor. Sy lyk met verskeie steekwonde is omstreeks middernag in sy slaapkamer gevind.
Hy was die eggenoot van Magdaleen Titus, ANC-raadslid van die Groter Oudtshoorn en lid van die ANC se pro-vinsiale uitvoerende komitee.
Volgens Pojie is verdere inhegtenisnemings nie uitgesluit nie en sal ’n identikit van nog ’n verdagte binnekort uitgereik word.
“In die lig van die sensitiewe aard van die ondersoek kan meer inligting nie in hierdie stadium bekend gemaak word nie,” het hy gister gesê.
The post Twee mans reeds vas appeared first on DieHoorn.