
Deur Liesel le Roux
NEGATIWITEIT is ’n gevaarlike ding. Dit kan ’n mens se manier van doen en praat so ongemerk oorneem dat dit later deel raak van al jou woorde en dade.
En waar dit goed is om krities na die wêreld om ons te kyk, is dit iets anders as negatiwiteit ons oordeel
begin verlam en ons (negatiewe) reaksie op alles en nog wat voorspelbaar (negatief) raak.
Dis veral maklik om negatief te wees op sosiale media; lees maar hoe mense mekaar sonder om twee keer te dink afbreek en slegsê en vloek; en hoe maklik goeie bedoelings gekritiseer word. Daar is by baie nie ’n wag voor die vinger op die toetsbord of die sel foon nie. Die afstand tussen jou en die persoon of instansie wat jy slegsê, maak party mense baie “dapper”; en terseldertyd ook baie afbrekend.
Ons besef dit is deel van die samelewing van 2017/2018. Nie net in die Klein Karoo nie, maar wêreldwyd
kla en kritiseer mense mekaar, en lees ander gretig saam.
Hier in die dae voor Kersfees en met die einde van 2017 net meer as ’n week ver, hoop ons werklik vir minder negatiwiteit in 2018 – minder kla, minder slegsê, minder afbreek (letterlik en figuurlik).
Ons hoop vir mense wat deel word van ’n oplossing en nie hul tyd spandeer om mekaar verder negatief te maak met, wel, hul negatiwiteit nie.
Ons hoop mense sal in die nuwe jaar meer aanmoedig en raad gee en reghelp, meermale dankie sê – in jou gesin, by jou werk, in jou dorp of stad.
’n Geseënde Kersfees en voorspoed vir 2018 aan al ons lesers! Wees versigtig op ons paaie en kom veilig tuis.
The post Oppas vir sulke verlammende negatiwiteit appeared first on DieHoorn.