• Bestuurder se bloed op toneel getrek

Jodin Arries (16). Foto Facebook
Deur Ilze-Mari Gründling
’N JONG leerder van Bridgton Sekondêr op Oudtshoorn is Maandagmiddag in die Life Bayview Hos- pitaal in Mosselbaai geneem nadat ’n motor oor hom gery het. Jodin Arries (16) is met veelvuldige beserings per ambulans na die hospitaal geneem en is steeds in die waakeenheid.
Die 29-jarige bestuurder van ’n silwer Opel Corsa is op die toneel in hegtenis geneem. Hy was vermoedelik onder die invloed van drank en het na bewering nie by ’n stopteken stilgehou nie. Die saak teen hom is uitgestel totdat die uitslae van bloed- toetse beskikbaar is.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die voorval omstreeks 16:35 op die hoek van Petunia- en Panoramastraat in Bongolethu plaasgevind.
Jodin se pa, Henri, ’n polisiebeampte van Prins Albert, sê dat sy seun bloeding op die brein gehad het, maar steeds reageer en onthou wat gebeur het. Sy regterbeen is bo die knie gebreek, asook sy linkerpols.
“Ons is net baie dankbaar dat hy nie skade aan die brein opgedoen het nie. Hy kan onthou dat die kar te vinnig gery het en dat sy vriend, wat by hom was, betyds kon wegspring. Hy kon nie. Ons dink ook dat as hy nie gereeld oefening gedoen het nie, sou hy nie die stamp oorleef het nie. Ons is baie dankbaar dat hy oorleef het.”
Arries sê volgens ’n dokter behoort sy seun nog ’n week of twee in die waakeenheid te wees. “Daarna sal die lang pad na herstel begin.”
The post Seun in waakeenheid ná motor oor hom ry appeared first on DieHoorn.