
Pieter de Bruyn (links) wat Saterdag beseer is nadat ’n bakkie na bewering oor hom gery het, het Dinsdag die hofverrigtinge op Oudtshoorn met die hulp van krukke bygewoon. Regs is sy vrou, Hester, op wie tydens dieselfde voorval na bewering geskiet is. Die naam van die man in die middel is nie bekend nie. Foto: Garnett Wicomb
Deur Liesel le Roux
’N BOER wat na bewering Saterdag op sy kleinhoewe op Volmoed buite Oudtshoorn met sy bakkie oor ’n man gery en daarna op ’n vrou geskiet het, is Dinsdag op R5 000 borg vrygelaat.
Die Polisie ondersoek ’n aanklag van poging tot moord teen Gert Beneke (65). Beneke moet op 19 April weer in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het Beneke na bewering omstreeks 16:55 met sy rooi Isuzu-bakkie oor Pieter de Bruyn (46) gery.
Daarna het Beneke na bewering begin skiet op De Bruyn se vrou, Hester de Bruyn (46), wat gaan ondersoek instel het toe sy gesien het Beneke ry oor haar man.
Sy is volgens Visser nie raakgeskiet nie.
Dit wil voorkom of die De Bruyns en nog mense oor ’n oop stuk grond op Beneke se kleinhoewe geloop het toe die voorval plaasgevind het.
Beneke is nadat hy in hegtenis geneem is, in die Klein Karoo MediClinic opgeneem waar hy onder polisiebewaking geplaas is.
Hy is Maandagoggend ontslaan en het dieselfde dag die eerste keer in die hof verskyn
• Garnett Wicomb berig dat landdros Theolis November Dinsdag aan Beneke borgtog toegestaan het op voorwaarde dat Beneke al sy vuurwapens by die ondersoekbeampte, ao Valentyn, ingee, nie direk of indirek kontak maak met die vyf staatsgetuies nie, nie by verdere misdaad betrokke raak nie en alle hofverskynings bywoon.
Hy word van poging tot moord aangekla en is gewaarsku dat indien hy enige van die voorwaardes verontagsaam, sy borggeld aan die staat verbeurd verklaar kan word en hy in aanhouding sal bly totdat die saak afgehandel is.
Die staatsaanklaer, Van Premchand, het nie borgtog teengestaan nie op voorwaarde dat streng voorwaardes gestel word.
Die voorvalle het glo plaasgevind toe die De Bruyns en nog mense oor Beneke se kleinhoewe gestap het.
Inwoners van Volmoed wat die hofverrigtinge bygewoon het, het hul ontsteltenis uitgespreek oor die vinnige toestaan van borgtog.
Leon Campher, ’n gemeenskapsleier wat die mense van Volmoed bystaan, het gesê die reg-stelsel is ’n “grap”.
Volgens hom moet ander verdagtes met minder ernstige klagtes teen hulle vir minstens sewe dae wag voordat hulle in die hof om borgtog aansoek kan doen.
“Wat vandag hier gebeur het, is spesiale behandeling en ons gaan die saak nie daar los nie,” het Campher buite die hof gesê.
Campher het vroeër op sy Facebook-profiel geskryf dat hy by die slagoffers was en dat van die mense wat daar was tydens die skietery erg getraumatiseer is.
• Gideon Badenhorst van die prokureursfirma James King en Badenhorst, het was Beneke se regsverteenwoordiger in die hof.
The post Borg vir boer wat man omry en toe skiet appeared first on DieHoorn.