
Dié sogenaamde “dophou”- kamera waar dit gevind is. Die foto is op ’n WhatsApp-groep geplaas om inwoners oor die voorval in te lig.
Deur Liesel le Roux
’N SOGENAAMDE dophou-kamera wat na bewering so geplaas was dat dit bewegings by ’n spesifieke huis in Parkweg kon “dophou”, is Dinsdagaand deur die Oudtshoorn Polisie verwyder nadat hulle deur ’n inwoner uit die omgewing daaroor ingelig en ontbied is.
Die kamera was na bewering aan-geskakel en was besig met opnames toe die Polisie dit oopgemaak het.
Dit is na bewering soortgelyk aan kameras wat in die veld gebruik word om diere te monitor.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die Polisie beslag gelê op die kamera nadat dit aan hulle gerapporteer is.
Die kamera was teen gisteroggend steeds in die besit van die Polisie.
“Die persoon op wie se huis die kamera gerig was, het later weer die Polisie gekontak om ons mee te deel dat sy weet wie die kamera daar geplaas het en dat sy en die persoon bekend is aan mekaar,” het Visser gesê.
Volgens Visser is daar nie ’n kriminele saak in verband met die saak aanhangig gemaak nie.”
The post ‘Dophou’-kamera voor huis Dinsdag deur polisie verwyder appeared first on DieHoorn.