Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Borgtog vir Natashia

$
0
0

Preston Titus-moordsaak

Natashia Stuurman. Foto Facebook

Natashia Stuurman. Foto Facebook

Deur Garnett Wicomb
Die sewemaande swanger Na­tas­hia Stuurman (38), een van die verdagtes in die moordsaak van die soldaat Preston Titus, is Maandag in die Oudtshoorn Landdroshof borgtog van R15 000 toegestaan.

Stuurman staan saam met Titus se vrou, Magdaleen (41), en Justice Mooi (30), tereg op klagtes van moord met voorbedagte rade en die besit van gevaarlike wapens. Sy is ’n vriendin van Magdaleen Titus.

Preston Titus is die aand van 1 Desember 2017 wreed in sy slaapkamer vermoor. Daar was volgens die ondersoekbeampte, ao Martin le Roux, 27 steekwonde aan sy liggaam en hy is ook met ’n hamer geslaan. Magdaleen Titus se motorbestuurder, Si-zabeso Klip, het vroeër ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan en is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.

’n Vyfde verdagte word nog gesoek.

Stuurman se regsverteenwoordiger, Chris Morgan, het die hof gister gevra om borgtog toe te staan omdat die staat nie ’n sterk prima facie-saak teen haar het nie. “Die staat maak grootliks staat op die beëdigde verklaring van Klip wat vir hom ’n ligte vonnis van vyftien jaar beding het terwyl hy lewenslank tronk toe moes gaan,” het Morgan gesê.

“So kan hy na sewe jaar vrygelaat word terwyl hy met ’n lewenslange vonnis eers na agtien jaar om parool aansoek kan doen.”

Stuurman was volgens Morgan die aand van die beweerde moord in Beaufort-Wes vir ’n kerkbyeenkoms en het vir haar en haar ongebore kind se lewens gevrees nadat Klip haar meegedeel het dat die twee vermeende huurmoordenaars “baie gevaarlik” is.

Volgens Morgan ken Stuurman nie die staatsgetuies in die saak om hulle te probeer beïnvloed nie.

Sy beskik oor ’n paspoort en is bereid om dit aan die ondersoekbeampte te oorhandig indien borgtog aan haar toegestaan word en sal alle hofverskynings bywoon. Sy het ook geen vorige veroordeliongs of hangende sake teen haar nie.

Die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, het die hof meegedel dat Stuurman ten volle bewus was van die komplot om Preston Titus te vermoor.

“Die staat is in besit van selfoonrekords van al die verdagtes wat dit staaf,” het Weyers gesê.

Volgens Weyers was Stuurman ook teenwoordig tydens ’n vergadering op Sondag 3 Desember 2017 – ’n dag na Preston Titus se dood – saam met met Klip en Magdaleen Titus in die oorledene se slaapkamer.

Dit was ook Stuurman wat voorgestel het dat die vermeende huurmoordenaars ander simkaarte moet kry en dat sy haar motor vir hulle beskikbaar gestel het.

“Die staat staan borgtog teen omdat die beskuldigde tereg staan op ’n Bylae 6- ernstige misdryf, daar bestaan die moontlikheid dat sy nie haar verhoor sal bywoon nie en die belange van die gemeenskap kom ook sterk na vore,” het Weyers betoog. Sy het gesê daar is wel geriewe vir swanger vroue by die gevangenis.

Volgens Weyers is Stuurman nie eerlik met die hof nie.

Kapt Deon Bouwer, wat van die begin af deel was van die ondersoekspan, het Maandag getuig dat Stuurman nie die waarheid praat wanneer sy sê dat die polisie geweier het om haar prokureur tot haar beskikking te stel ná haar inhegtenisneming op 6 Januarie nie.

Volgens hom is al haar regte behoorlik aan haar voorgehou.

Landdros The-olen November het in sy uitspraak erken dat die staat ’n prima-facie-saak het en dat die hof bewus is van die feit dat borgtog aan twee ander verdagtes, Magdaleen Titus en Justice Mooi, geweier is.

“Elke saak moet egter op sy eie meriete be-oordeel word,” het hy in sy kort uitspraak gesê.

Hy het die belange van die gemeenskap in ag geneem, maar gesê dat die hof hom nie deur die gemeenskap kan laat voorsê nie en borgtog van R15 000 in belang van geregtigheid toegestaan..

Stuurman se borgvoorwaardes bepaal dat sy vanaf 13 April elke Maandag en Vrydag by die Bongolethu Polisiekantoor moet aanmeld, nie met staatsgetuies moet inmeng nie, nie by enige misdaad betrokke raak nie en alle hofverskynings moet bywoon.

Sy moet op 4 Junie in die hof wees.

• Die saak teen Magdaleen Titus en Justice Mooi is kort na Stuurman se saak in die A-hof deur landdros Roelf Konstabel vir verdere ondersoek ook tot 4 Junie uitgestel.

The post Borgtog vir Natashia appeared first on DieHoorn.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434