’N NUWE styging in Covid-19-gevalle in die Wes-Kaap word deur ’n styging in gevalle in spesifiek die Tuinroete Distrik en die Kaapse Metro gedryf, het die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, gister tydens ’n digitale konferensie gesê.
Volgens Winde is die Tuinroete egter die grootste brandpunt, met ’n skerp toename in gevalle in veral George en Knysna. Hoewel die Groter Oudtshoorn en Kannaland se syfers tans onder beheer is, het hy gewaarsku dat die virus volgens aanduidings tans in die Tuinroete Distrik versprei.
Die Wes-Kaapse regering het op 17 November ’n ernstige waarskuwing uitgereik waarin die Tuinroete Distrik as die grootste Covid-19-brandpunt in die Wes-Kaap geïdentifiseer is.
Volgens Winde was daar tussen 17 en 24 November ’n 52,1%-styging in nuwe Covid-19-gevalle in die Wes-Kaap.
Winde het inwoners van die provinsie gevra om saam te staan en Covid-19-regulasies na te kom om die verspreiding van die virus teen te werk.
Volgens hom kan die ekonomie nie nog ’n inperking bekostig nie en kan die gesondheidstelsel dit nie hanteer nie.
Hy het ook aangedui dat wetstoepassing ten opsigte van die nakoming van Covid-19-regulasies verskerp gaan word en spesifiek gevra dat jaareindfunksies af- of uitgestel moet word.
Dr Keith Cloete, hoof van Departement Gesondheid in die Wes-Kaap, het gesê die toename in die Tuinroete is sedert 21 September drie maal soveel as voor dit en die toename in die Kaapse Metro twee maal.
Hy het ook ’n pleidooi gerig dat inwoners die provinsie se gesondheidswerkers moet beskerm, en verwys na Prins Albert waar daar die week drie nuwe gevalle was, waarvan twee personeellede van ’n hospitaal is.
Wat die beskikbaarheid van beddens in die Tuinroete Distrik betref, is privaat-hospitale wel toenemend besig, maar is daar veral op Oudts-hoorn nog kapasiteit.
Nadia Ferreira, woordvoerder van die Departement Gesonheid in die Tuinroete, het op navraag van Die Hoorn gesê dat die openbare hospitale tans nog die toename in pasiënte kan hanteer.
“Ons nuutste beskikbare inligting toon dat daar 160 pasiënte tans in hospitale in die Tuinroete is, waarvan 50 in hoësorg- of intensiewe sorgeenhede is,” het sy op 24 November gesê.
Volgens haar was daar in daardie stadium sewe pasiënte in die Oudts-hoorn Hospitaal. Sy het egter gemaan dat getalle voordurend verander.
Tydens die digitale konferensie gister is aangedui dat die nuutste syfers aandui dat daar agt nuwe pasiënte op Oudtshoorn is en dat een sterfte aangemeld is.
“Ons kan nie genoeg die belangrikheid beklemtoon van maskers dra, hande was en dat mense ’n afstand van 1,5 m van ander moet hou nie,” het Ferreira gesê.
“Vermy moontlike super-verspreidingsbyeenkomste, soos wat binnenshuis plaasvind, of in plekke met swak ventilasie, plekke waar daar baie mense gaan wees, en plekke waar jy nie ’n afstand van 1,5 m van ander kan hou nie.
“Hou die vensters oop en probeer sover moontlik buite sosialiseer.
“Dra altyd jou masker as jy by die huis uitgaan, selfs tussen familie en vriende. Bly ook by die huis as jy siek voel.” (Deur Stefan Skapie Goosen)
The post Covid: Tuinroete-styging die grootste in Wes-Kaap appeared first on Die Hoorn.