’N VOLLE 18 kandidate gaan op 9 Desember mekaar die stryd aansê om tot raadslede in drie vakante wyke in die Groter Oudtshoorn verkies te word.
Vier politieke partye, die ANC, DA, EFF en GOOD, het kandidate aangewys om die tussenverkiesings in Wyk 4 (Bridgton en Bongolethu), Wyk 5 (Bridgton) en Wyk 10 (Dysselsdorp) te beveg, terwyl ses onafhanklike kandidate ook hul name in die verkiesingshoed gegooi het.
Die drie wyke het vroeër vanjaar vakant geraak toe drie DA-raadslede uit die raad bedank het. Dié drie raadslede, Ewa Fortuin, Hendrik Ruiters en Nellie Soman, gaan die tussenverkiesing in hul ou wyke aandurf, almal as onafhanklike kandidate.
Dié tussenverkiesings kan moontlik ’n invloed hê op wie die Groter Oudtshoorn na 9 Desember sal beheer, veral indien van die onafhanklikes, die ANC of GOOD goed vaar by die stembus.
Die raad word tans deur ’n koalisie van die DA, Sarco en Icosa beheer.
Dit sal interessant wees om die vertoning van die onafhanklike kandidate by die stembus dop te hou. Histories het onafhanklike kandidate en groeperinge op die dorp nie groot steun by die stembus ontvang nie, maar van die onafhanklikes het vanjaar steun agter hulle. Mlandeli Nyuka (Wyk 4) en Athur Bezuidenhout (Wyk 5) word deur die beweging Independents for Oudtshoorn (IFO) ondersteun, terwyl Oudtshoorn se vorige burgemeester, Colan Sylvester, sy steun op Facebook uitgespreek het vir sy voormalige kollegas, Fortuin, Ruiters en Soman.
Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) is die kandidate soos volg:
Wyk 4: Gillian Carolus (ANC), Fielies September (DA), Cyril Moyene (EFF), Miriam Smith (GOOD), Mlandeli Nyuka en Ewa Fortuin (albei onafhanklik).
Wyk 5: Naomi Jonkers (ANC), Jacqueline Meyer (DA), Robin Jullies (EFF), Charlene Konstabel (GOOD), Athur Bezuidenhout, Hendrik Ruiters en Adriaan van Niekerk (al drie onafhanklik).
Wyk 10: Booi Berry (ANC), Rubin Bosman (DA), Zanelizwi Aubrey Rala (EFF), Ashwill Oktober (GOOD) en Nellie Soman (onafhanklik). (Deur Liesel le Roux)
The post Onafhanklikes en 4 partye takel tussenverkiesings in Oudtshoorn appeared first on Die Hoorn.