Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5444

Die hemele gaan juig by Kerskonsert

$
0
0

DIE “hemele gaan juig” op Saterdag 12 Desember wanneer die Suid-Kaap-kin­derkoor (SKKK) saam met Corlea Botha en Jannie Moolman by die derde Klas­sieke Klein Karoo Kersfees gaan optree.

Dié konsert vind elke jaar op Celebratio plaas, ’n uitvoer-granaatplaas buite Oudtshoorn. Meer as die helfte van die kaartjies is reeds verkoop en dit beloof om die perfekte manier te wees om die feestyd af te skop.

“Ek sien uit na ’n groot ervaring in die opelug onder al die derduisende sterre van die Klein Karoo. Die byvoeging van die kinderkoor gaan die konsert selfs meer spesiaal maak. Ek dink die hemele gaan juig wanneer hulle begin sing!” So sê Corlea, wat van die begin af deel was van Klassieke Klein Karoo Kersfees.

Dit is die eerste keer dat die bekroonde kinderkoor deel is van die vertoning. Die koor spog met ’n rits toekennings – ’n Kanna-prys vir beste musiekproduksie by die KKNK, wenner van die ope-afdeling van die agtste Wêreldkoorspele in Letland; herhaalde wenner van die ATKV Animato-finaal-koorkompetisie; eerste uit kore van 24 lande prys (cum laude) by die 64ste Muziekfestival voor die Jeugd in België.

Volgens Corlea wil hulle met dié konsert die Here se naam grootmaak en die storie vertel waaroor Kersfees werklik gaan.

“Dit gaan nie oor tafels wat kreun van die kos en hope aardse geskenke nie. Ons het almal ’n verskriklike jaar agter die rug en ek dink om by mekaar te kan kom en saam die Kerstyd te vier, is die beste geskenk wat ’n mens kan ontvang. En dan natuurlik die geskenk van musiek…”

Sy sê sy sien ook daarna uit om met die begeleiding van ’n klein simfonie-orkes bestaande uit “wonderlike musikante” te sing. Die koor en soliste word begelei deur die Stellenbosch Stadsorkes, onder leiding van Paul Loeb van Zuilenberg.

Behalwe die gewildste Kersliedere wat op die program is, is daar ook nuwe liedere en verwerkings. Konsertgangers kan uitsien na Kersliedere soos “Stille Nag”, “Jerusalem” en “O Holy Night/Dis Kersfees”, asook klassieke treffers soos “Love Changes Everything”, “Panis Angelicus” en “O Sole Mio”.
Ook op die program is “Karoonag”, “Somerkersfees” en “Gebed”.

Die konsert begin om 19:30 en die kos- en wyn-stalletjies is van 18:00 af oop.

Plaaslike restaurante en wynkelders sorg vir iets te ete en te drinke voor die verto­ning asook tydens pouse.

Weens Covid-19-reëls is slegs 500 kaart­jies beskikbaar. Bespreek vroegtydig om teleurstelling te voorkom. Kaartjies (R200 en R220) is aanlyn beskikbaar by www.celebratio.co.za of by PostNet Oudtshoorn. Alle sitplekke is op stoele en gereserveerd.

Die plaas is 30 km buite Oudtshoorn, rigting Calitzdorp en geen grondpaaie hoef gery te word nie. Daar is nog be­perkte verblyf beskikbaar op die plaas.

Vir meer inligting kontak Gerhard Meyer by 082 802 7138. (Deur Marita Meyer)

The post Die hemele gaan juig by Kerskonsert appeared first on Die Hoorn.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5444