Die bekende Kannalander Bob Reinecke is pas deur Agri Wes-Kaap met ’n spesiale eretoekenning vereer. Hier ontvang hy sy spesiale eretoekenning van Heinie du Toit, vise-president van Agri Wes-Kaap. (Foto verskaf.)
DIE bekende Kannalander, Bob Reinecke (90), is verlede Woensdagaand (25 November) deur Agri Wes-Kaap met ’n besondere eretoekenning vereer.
Reinecke, wat tans op Calitzdorp woon, en Cornie Swart, voormalige president van Agri Wes-Kaap, was by ’n galadinee die twee ontvangers van dié spesiale eretoekennings.
Reinecke, wat in 1990 na 40 jaar diens by Safmarine afgetree het, het toe in die Ladismith-omgewing begin boer en aktief betrokke geraak by sy plaaslike landbouverenigings – eers Agri Ladismith en nou Agri Calitzdorp.
Hy was in 1997 en 1998 as addisionele lid op Agri Wes-Kaap se sakekamer gekoöpteer.
Reinecke het oor die jare bekend geword as ’n man wat elke streekkongres of jaarkongres bygewoon het, het Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap gesê.
Hy het Reinecke bestempel as ’n uitsonderlike voorbeeld vir elke landbouprodusent wat nog twyfel oor die onontbeerlike rol van die georganiseerde landbou.
“Agri Wes-Kaap vereer vir Bob Reinecke vir sy lojaliteit, visie en onvoorwaardelike ondersteuning van Agri Wes- Kaap oor baie jare.
“Sy betrokkenheid by Agri Wes-Kaap het nog altyd gepaard gegaan met sy briljante insig, kundigheid, waardevolle bydrae en skerpsinnigheid. Ons eer hom as ’n gerespekteerde kollega en vriend wat altyd die beste belang van sy medeboere en die organisasie op die hart dra.” (Deur Liesel le Roux)
The post Met eretoekenning deur Agri Wes-Kaap vereer appeared first on Die Hoorn.