HY glo die Inovasure-energieprojek sal ’n betekenisvolle uitwerking op die plaaslike ekonomie van Kannaland hê en tot voordeel strek van die plaaslike gemeenskap, sê die waarnemende burgemeester van die Kannaland Munisipaliteit, Phillip Antonie.
Volgens Antonie werk die Kannaland Munisipaliteit al sewe jaar saam met die Kannaland Small Business Council en Inovasure aan die projek – ’n diensleweringsooreenkoms om die betroubare en koste-effektiewe voorsiening van elektrisiteit te verseker sonder die negatiewe gevolge van beurtkrag – en is van die bewerings van Bredell nie korrek nie.
Hy sê die kapitaaluitgawes van die projek sal deur oorsese beleggers betaal word met geen koste of laste vir Kannaland se belastingbetalers nie en met bates wat na 25 jaar oorgeplaas sal word na Kannaland. Die projek bied ook voordele vir Kannaland soos ’n moderne inkomsteverbeteringstelsel, wat onder meer slimmeters en slimfone insluit en die nodige bestuursverslae kan genereer.
Volgens Antonie het die munisipaliteit eers deur die proses gegaan vir ’n openbare-private-vennootskap maar toe party regeringsdepartemente nie op aspekte van die proses gereageer het nie, oorgegaan na ’n bod- proses ingevolge sekere wetgewing. Volledige besonderhede is volgens Antonie beskikbaar by https://www. kannaland.gov.za/inovasure-energy-project-kannaland-munisipaliteit.
“Soos aangedui deur al die verslae en interaksies oor die jare heen word die InovaSure Energy Vault-projek ondersteun deur sleutelrolspelers in die regering soos Nasionale Tesourie, die Sentrale Energiefonds en die Ont-wikkelingsbank van Suider-Afrika asook deur internasionale vennote wat befondsing verskaf, en ’n magdom plaaslike en internasionale ondernemings en organisasies.”
Antonie sê hy glo dit is voortydig om na die hooggeregshof te gaan omdat wetgewing oor interregeringsverhoudinge vereis dat die partye ’n dispuut buite die hof probeer oplos, en dat ’n kostebevel teen die applikant verkry kan word as regsoptrede sal voortgaan.
Volgens hom sal die Kannaland-raad ’n vergadering met die Wes-Kaapse regering verwelkom in ’n poging om die aangeleentheid te bemiddel eerder as ’n onnodige en duur hofaansoek.
“As dit nie suksesvol is nie, kan ’n formele dispuut verklaar word en die vergadering daarna belê word – alles voor die Wes-Kaapse provinsiale regering se voorgestelde hooggeregshofaansoek.”
• Antonie sê hoewel van InovaSure se tegnologie nuut in Suid-Afrika is, is dele daarvan die afgelope 10 tot 40 jaar suksesvol in Suid-Afrika en verskillende ander lande getoets en geïmplementeer.
“Eenvoudig gestel, sal elektrisiteit deur sowel Eskom as hernubare energiebronne gelewer word en geberg word in ’n groot battery genaamd die InovaSure Energy Vault. Huis- en besigheidseienaars ontvang dan sogenaamde distribusie-toestelle waarmee hulle voorafbetaalde elektrisiteit van die Energy Vault kan koop. Tydens spitstye sal die Energy Vault oortollige energie na die verspreidingsnetwerk van die munisipaliteit kan stuur. Dit sal die druk op die netwerk vergemaklik en inwoners teen die negatiewe gevolge van beurtkrag beskerm en ’n inkomste vir die munisipaliteit lewer. Die distribusie-toestelle bied ook WiFi vir internettoegang, asook ander vorme van vermaak en gratis opvoedkundige materiaal.”
Volgens Antonie kos ’n standaard InovaSure Energy Vault tans sowat R326 miljoen. Vir Kannaland word ’n kleiner weergawe beoog vir onder R100 miljoen.
“Die hele projek sal deur InovaSure gefinansier word met geen finansiële risiko van enige aard vir die munisipaliteit nie.”
The post Kannaland: Munisipaliteit glo projek is tot almal se voordeel appeared first on Die Hoorn.