Die Wes-Kaapse regering het begin met regstappe teen verteenwoordigers van en senior amptenare by die Kannaland Munisipaliteit om “moontlike skadelike en onwettige transaksies” te voorkom.
Dié transaksies verwys volgens ’n persverklaring wat deur die kantoor van Anton Bredell, minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, uitgereik is, na pogings om “politieke” personeelaanstellings by die munisipaliteit te maak asook om ’n kontrak te sluit vir ’n energieprojek wat die munisipaliteit langer as 25 jaar sal bind.
Die Hoorn het in Desember berig oor ’n beoogde energieprojek, die Kannaland Inovasure Energy Vault Program. Die projek is sedert 2012 in die pyplyn en verskeie sakemense en landbouers in die streek het verlede jaar hul kommer uitgespreek oor die implikasies van so ’n groot projek in ’n klein landelike munisipaliteit met gebrekkige finansies.
Volgens Bredell is die regstappe nodig om te voorkom dat die munisipaliteit massiewe finansiële verpligtinge aangaan wat dit nie kan bekostig nie.
“Die Nasionale en Provinsiale Tesourie het die munisipaliteit in kennis gestel dat hulle nie die behoorlike proses gevolg het nie. Dit blyk dat die projek R735 miljoen sal kos, wat duidelik nie bekostigbaar is as die munisipaliteit se totale beskikbare bedryfsbegroting vir 2020/21 R174 miljoen is nie.”
Bredell sê die aanstelling van personeel in die kantore van die speaker en burgemeester, insluitend ’n kantoorbestuurder, bestuurder, klerk, “politieke ondersteuningsbeampte” en “ondersteuningspersoneel” is onaanvaarbaar vir ’n klein munisipaliteit in ’n finansiële krisis wat sukkel om dienste aan die gemeenskap te lewer en die ekonomiese gevolge van die Covid-19-pandemie te hanteer.
“Die nuutste optrede van die munisipaliteit is nie net onwettig nie, maar dit ondermyn die vordering wat die provinsiale regering sedert 2017 gemaak het – toe by die munisipaliteit ingegryp is – ten opsigte van finansiële stabiliteit en volhoubaar- heid. Die finansiële herstelplan wat vir die munisipaliteit ingestel is om ’n koste-effektiewe en kostebesparende personeelstruktuur te skep, word geïgnoreer. Werk wat vir vriende gegee word, is eenvoudig onaanvaarbaar.”
The post Kannaland: Provinsiale regering begin regstappe teen munisipaliteit appeared first on Die Hoorn.