Om te praat en te luister
Dit wil voorkom of die kuns/vermoë/-behoefte om met mekaar te praat en na mekaar te luister, al hoe skaarser raak.
Veral waar mense van mekaar verskil of ’n beswaar het, praat hulle oënskynlik makliker met ander mense oor die persoon of die besigheid of die beswaar as met die betrokkene self.
Ons wonder dikwels of diegene wat byvoorbeeld sms’e na die pers stuur waarin hulle oor ander kla, die moeite gedoen het om hul klag of probleme met die persone betrokke te bespreek.
Het jy vir die buurman gesê sy blaffende hond hou jou uit die slaap?
Het jy vir die besigheidseienaar gesê sy personeel was onvriendelik?
Het jy vir die skoolhoof gesê jy is ongelukkig met ’n gebeurtenis by die skool?
Het jy vir die dominee of pastoor gesê daar het iets by die kerk gebeur wat jou pla?
Ons ervaring is dat mense gewoonlik met groot dankbaarheid daarvan kennis neem as iemand hulle inlig oor ’n probleem of ’n leemte of ’n klag. Dit stel hulle in staat om die probleem op te los.
Ons maak die lewe onnodig moeilik vir onsself deur nie met mekaar te praat nie.
Ons maak die lewe egter ook onnodig moeilik deur nie met ’n oop gemoed na ander te luister nie.
Hoe jammer was dit byvoorbeeld nie gister dat die burgemeester of speaker of munisipale bestuurder nie maar uit die munisipale ivoortoring gestap het om te luister na inwoners van die dorp wat hulle nie altyd goedgesind is nie.
Die boodskap wat dié weiering uitgestuur het, was nie ’n positiewe een nie, en beslis nie een wat kommunikasie tussen inwoners van Oudtshoorn bevorder nie.