Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Marlene en Stefan gaan bekoor

$
0
0

Deur Liesel le Roux

Marlene en Stefan

Twee talentvolle jong musikante van die Suid-Kaap, Marlene Vlok en Stefan Conradie, wat Sondagmiddag in Die Neelsie optree. Hier is hulle Saterdagmiddag besig om in Die Neelsie vir hul konsert te oefen.

DIS ’n konsert om nie mis te loop nie.

Die musiek gaan voortreflik wees. Die atmosfeer een van positiwiteit en geesdrif!

Twee begaafde tieners van die Suid-Kaap pak dié naweek ’n opwindende projek aan en hul geesdrif daarvoor is meesleurend.

Die twee is Marlene Vlok (17), ’n matriekleerder van die Hoërskool Oudtshoorn, en Stefan Conradie (15), ’n graad 10-leerder van die Hoërskool Outeniqua op George.

Marlene, ’n jong pianis wat volgende jaar B Mus aan die Universiteit van Stellenbosch (US) gaan studeer, en Stefan, ’n violis, bied Sondagmiddag ’n konsert aan met mooi musiek en boonop vir ’n goeie doel. Die opbrengs van die kaartjies gaan vir Die Neelsie, die teater by Arbeidsgenot op Oudtshoorn, waar die konsert ook plaasvind.

Die twee het mekaar twee jaar gelede by ’n huiskonsert op George ontmoet.

“Dit is so lekker om saam met iemand te speel wat ook so geesdriftig soos ek oor musiek is,” sê Marlene.

Marlene, die dogter van die bekende plantkenner Jan Vlok en dr Anne-Lise Schutte-Vlok, ekoloog van CapeNature, het reeds in haar graad 10-jaar aan die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie deelgeneem. Sy gaan later vanjaar ook aan die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees deelneem.

Nou droom sy en Stefan nie net oor verdere studie aan die US nie, maar albei se mikpunt is om eendag aan die beroemde Julliard Skool vir die kunste in New York te gaan studeer en musiek hulle loopbane te maak.

Hoewel hulle al meermale saam geoefen het, sal Sondagmiddag se optrede hul eerste gesamentlike optrede wees.

Die konsert sal vir almal toeganklik wees, verseker die twee geesdriftige jong musikante.

“Ons wil graag met die konsert ons liefde vir musiek aan ander oordra,” sê Marlene.

• Marlene en Stefan se musiekkonsert begin Sondagmiddag om 16:30 (halfvyf) en vind in Die Neelsie in Jan van Riebeeckweg plaas. Kaartjies by die deure kos slegs R40 vir volwassenes en R15 vir leerders. Kom ondersteun ons streek se jong talent en lewer ook so ’n broodnodige bydrae tot Die Neelsie. Enige navrae kan aan Jan Vlok by tel 044 279 1987 gerig word.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434