Deur Liesel le Roux
AS daar mense is wat die week rede gehad het om van oor tot oor te glimlag, is dit Abe en Susie Bezuidenhout van Oudtshoorn.
Die Bezuidenhouts se wit Isuzu-bakkie is Saterdagaand tussen 20:00 en 20:30 voor hul blyplek in Buitekantstraat in Wesbank gesteel.
Diefstal van veral bakkies kom sedert verlede jaar kort-kort in Wesbank voor.
Maar dié keer was die flinke optrede van die polisie in die streek net te veel vir die dief, en om 22:00 is die bakkie by Uniondale teruggevind en ’n verdagte in hegtenis geneem.
Die Bezuidenhouts was die week vol lof vir die optrede van die polisie.
Volgens Abe het hulle die aand by ’n vriendin, kapt Joey Strydom, gebraai. Sy is ook die stasiebevelvoerder van Calitzdorp.
Maar toe hulle omstreeks 20:30 by die huis kom, was die bakkie wat in die straat voor die huis geparkeer was, skoonveld.
Abe vertel dat ’n familielid, Pieter Engelbrecht, die bakkie omstreeks 20:00 nog voor die huis gesien het.
“Ek het besef dat die diefstal nie lank tevore plaasgevind het nie en dadelik vir Joey gebel. Daarna was die polisie puik. Hulle was byna dadelik hier by ons huis en al die polisiekantore in die omgewing is in kennis gestel van die diefstal. Ons wil dankie sê vir die polisie en spesifiek vir die polisie in Uniondale wat die bakkie gevind het.”
Die polisie ondersoek ook die moontlikheid dat die diefstal van ’n Hyundai H100 dieselfde aand op De Rust met die diefstal van die bakkie verbind kan word.
Die verdagte het reeds Maandag in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn. Die saak is uitgestel tot 11 Maart wanneer hy vir borg aansoek sal doen.
Die polisie het die publiek versoek om ao Martin Cooper by 044 203 9136 te kontak indien hulle kan help met enige inligting rondom die diefstalle.
• Sedert verlede jaar gebeur dit periodiek dat voertuie in Wesbank gesteel word – in die straat maar ook binne die erf en agter ’n gemotoriseerde hek. Op 29 April 2013 is twee Toyota Corollas in onderskeidelik Buitekantstraat en Jan van Riebeeckweg gesteel, tydens die nag van 8/9 Mei 2013 ’n Toyota-bakkie in Greenstraat en die nag van 12/13 Mei ’n Isuzu-bakkie in Jan van Riebeeckweg, en op 3 Junie ’n Isuzu-bakkie in Wallisstraat en ’n Nissan 1400-bakkie in Buitekantstraat.