Deur Liesel le Roux

Willie Swift van Oudtshoorn besig om van sy bonsai-boompies netjies te maak. Willie en sy vrou, Louise, het ’n bonsai-hoekie in hul tuin ingerig waar sy boompies staan, waar hy aan dit kan werk en waar hy ook ook later vanjaar klasse wil aanbied. Dié hoekie staan heel gepas bekend as Boere-Zen!
SY belangstelling in Bonsai-boompies het sowat 14 jaar gelede tydens ’n besoek aan die Kruger Wildtuin begin, sê Willie Swift van Oudtshoorn.
Swift wat saam met sy vrou, Louise, die Karoo-Palet Gastehuis in Bergsig, Oudtshoorn bedryf, spog met ’n indrukwekkende bonsai-versameling wat hy oor die jare met groot liefde opgebou het.
Voor sy aftrede in Julie 2013 was hy administratiewe beampte by die paaie-afdeling van die Eden Distriksmunisipaliteit.
Dit was ’n besoek aan die kwekery by Skukuza waar die “bonsai-gogga” hom gebyt en nog nooit laat los het nie. Hy het die dag 10 klein boompies gekoop. Drie van hulle het gevrek, maar sewe het oorleef. En deur selfstudie in boeke en ’n paar klasse by ’n kenner op George het Willie begin om dié nuwe liefde van hom uit te leef.
Onder sy bonsai-bome tel ’n verskeidenheid inheemse en uitheemse bome wat hy hoofsaaklik van steggies gekweek het, soos ’n koraalboom, peperboom, verskillende soorte vyebome, wildepeer, populier, jakaranda en doringbome.
Uit ’n gesprek met Willie word dit gou duidelik dat daar baie tyd, kennis en liefde in so ’n enkele bonsai-boompie ingaan. Daar is talle bonsai-beginsels wat, behalwe vir die vier bonsai-style, in ag geneem moet word. Die takverspreiding van ’n boompie vereis onder meer dat geen takke oor mekaar mag lê nie
Hy geniet elke oomblik van sy stokperdjie nog net so baie soos 14 jaar gelede.
“Dit is geweldig terapeuties,” vertel hy.
Willie sê soos ander mense na voëls gaan kyk, kyk hy na bome op soek na ’n interessante steggie wat ’n bonsai-boompie kan word.
Die boompies word op klippe of in potte geplant en verder met mos, dryfhout en kleiner klippe versier.
So ’n bonsai-boompie op ’n tafel is nie net ’n pragtige versiering nie, vertel Louise, maar gewoonlik ook sommer baie gou ’n lekker gesprekspunt.