Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

‘Ons gaan hul in tronk laat stop’

$
0
0

Deur Garnett Wicomb

Patricia de Lille (regs), DA-burgemeester van Kaapstad, en Eva Fortuin (tweede van links), DA-raadslid van Oudtshoorn, Maandag by twee inwoners van Wyk 7, Koos Mawona en Monica Solomons. ’n Tussenverkiesing gaan moontlik in dié wyk gehou word nadat die DA- wykraadslid, Peter Roberts, voorlopig deur die Oudtshoorn-koukus geskors is en gewag word vir bekragtiging van die DA Federale Raad.  Foto: Garnett Wicomb

Patricia de Lille (regs), DA-burgemeester van Kaapstad, en Eva Fortuin (tweede van links), DA-raadslid van Oudtshoorn, Maandag by twee inwoners van Wyk 7, Koos Mawona en Monica Solomons. ’n Tussenverkiesing gaan moontlik in dié wyk gehou word nadat die DA- wykraadslid, Peter Roberts, voorlopig deur die Oudtshoorn-koukus geskors is en gewag word vir bekragtiging van die DA Federale Raad.
Foto: Garnett Wicomb

“ONS gaan die hulle in die tronk laat stop en hulle weet dit,” het die DA-burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, Maandagoggend tydens haar verkiesingsveldtog in Bridgton geantwoord op ’n vraag oor wat met die ANC/Icosa/NPP-raadslede van Oudtshoorn gaan gebeur. Dié raadslede klou steeds vas om die Oudtshoorn-raad te beheer ten spyte daarvan dat die DA die meerderheid raadslede het na verlede Augustus se tussenverkiesings.

“Dit is teleurstellend dat die ANC geen respek toon vir demokrasie nie en dienslewering in die Groter Oudtshoorn daaronder ly,” het De Lille gesê.

Sy het Sondagaand tydens ’n vergadering in die Dysselsdorp Gemeenskapsaal ’n gehoor van meer as 300 mense toegespreek en Maandag huis-tot-huis-besoeke in Bridgton en De Rust gedoen. Sy het ook ’n draai by die Unieplein Taxistaanplek op Oudtshoorn gemaak.

Volgens De Lille sal drastiese stappe beslis geneem word teen diegene wat die belastingbetalers van Oudtshoorn se geld vir hofsake gebruik terwyl die dorp besig is om ten gronde te gaan.

“Die ANC/Icosa/NPP-koalisie klou vas aan mag en regeer die dorp onwettig. Ons gaan hulle in die tronk stop wanneer ons oorneem. Die ANC onderdruk die demokrasie.”

Sy het ook verwys na duisende kospakkies wat die ANC tydens verlede jaar se tussenverkiesings met belastingbetalers se geld aan kiesers uitgedeel het.

Pat Wagenaar, voorsitter van die DA se kiesafdelingsbestuur op Oudtshoorn asook van Wyk 7, sê die ANC/Icosa/NPP-koalisie probeer met foefies die raad beheer.

“Alles waarmee hulle na die howe gehardloop het, het tot dusver geboemerang en intussen geniet hul regsadviseurs hul inkomste. Die ANC-koalisie is astrant en arrogant.”

Wagenaar het gesê die ANC moet uit die Wes-Kaap gehou word op 7 Mei. “Hulle het self al erken dat die Wes-Kaap die beste regeer word van die land se nege provinsies.”

Volgens hom is die Oudtshoorn administrasie “die moeras af”. “Ek verneem die munisipaliteit is R10 miljoen in die rooi, en ons kan nie voertuie koop nie en huur van Avis,” het hy gesê.

Volgens Wagenaar is daar ook bewerings dat personeel nie betaal kan word nie en dat die munisipaliteit nie brandstof kry nie vanweë agterstallige rekenings.

Pieter Luiters, een van vyf ANC-raads­lede wat verlede jaar oorgestap het na die DA, het inwoners aangemoedig om op te staan vir hul regte.

“Julle is die dorp se belastingbetalers, maar julle kinders kry nie werk by die munisipaliteit nie. Gaan kyk of julle die mense ken wat by die munisipaliteit werk. Hulle kom van George, Mosselbaai, Ladismith, Calitzdorp en die Paarl af.”

 


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434