‘Kleurling/ coloured/ gemeng/mixed’ is vernederend
In ’n opskrif in ’n dagblad is verlede week beweer PARC is van mening “bruin is vernederend’” as ’n manier om na mense te verwys. Dit is nie korrek nie. Die skrywer van die berig moes die woord “kleurling” gebruik het.
“Kleurling/coloured/gemeng/mixed” is vernederend, rassisties, verwarrend. Ons is érg gekant teen die gebruik en verwysing na mense as kleurling of coloureds.
Ons is teen die ander rasterme ook gekant.
Die woord “bruin” en “bruinmense” het ’n ander betekenis. Dit verwys na ’n velkleur in dieselfde lig as “swartmens, witmens, persmens, geelmens, pienkmens, bruinmens”.
Ons wil Suid-Afrikaners vra wat na hulleself verwys as trots “coloured/ kleurling” om nie van die volgende persoon te verwag om na hom- of haarself te verwys as coloured/ kleurling nie.
Jy het jou redes hoekom jy so ge-ïdentifiseer wil word, en ons het ons eie.
Vir die mense wat na hulleself verwys as “witmense” en “swartmense” wil ons vra: moenie vir ons name kom gee nie. Daar word nié na julle verwys as “kleurling/coloured” nie. Julle weet nie hoe dit voel om so na te verwys word nie.
Hou asb op om ons “kleurlinge/ coloureds” te noem. Noem ons Suid-Afrikaners of KhoiSan-mense of vra vir die individu wat hy/sy genoem wil word. Noem my ’n Khoiman of Khoipersoon.
Deur na my te verwys as ’n Khoipersoon gee julle erkenning aan my kulturele identiteit en julle erken die bestaan van die Khoi-gemeenskap in die moderne Suid-Afrika. Ons kulturele taal is Khoekhoegowab en ons kan dit so ’n bietjie praat.
- Glen Snyman, leier van People Against Race Classification (PARC), Oudtshoorn
The post Briewe van lesers appeared first on Die Hoorn.