Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Help so met kinders op straat

$
0
0

Deur Liesel le Roux

INWONERS van Oudtshoorn en feesgangers word die week in ’n pamflet wat deur Famsa Karoo uitgedeel is, versoek om te help om die probleem van kinders op straat aan te spreek.

Famsa Karoo bestuur die St Francis Invalsentrum op die dorp wat hulp, kos en ander steun aan kinders op straat verleen.

In die pamflet word mense versoek om kinders wat sonder toesig op straat is en onversorg voorkom, onmiddellik te rapporteer indien hulle bedel, of mense lastig val, of by ’n misdaad betrokke is, of openlik ’n dwelmmiddel (soos die snuif van gom) gebruik.

Die beskikbare nommers is die SAPD se radiobeheerkamer by 044 203 9089 of 044 203 9022 of die noodnommer 10111; die munisipale wetstoepassers by 044 203 3121 of Famsa Karoo en die St Francis Invalsentrum se straatmonitors by 060 358 0016.

Mense word ook versoek om te help om kinders van die straat te hou deur nie vir hulle geld, kos of enige ander items te gee nie. Deur dit vir hulle te gee, word kinders op straat onderhou en gehou.

Die pamflette is een van die uitvloeisels van verskeie vergaderings die afgelope weke op Oudtshoorn oor straatkinders en die Absa KKNK waartydens koppe bymekaar gesit is.

Kinders op straat is uiters kwesbaar vir maatskaplike probleme soos dwelmmisbruik, misdaad, kindermishandeling en kinderarbeid, sê Franzu Badenhorst, direkteur van Famsa Karoo.

Die St Francis Invalsentrum in Wolfweg, Bridgton wat die afgelope jaar tot stand gekom het, voorsien maaltye aan kinders op straat, help hulle met persoonlike versorging en is daarby betrokke om hulle terug te skakel in die gemeenskap en by skole. Volgens Badenhorst is 17 van die kinders die afgelope jaar op redelike permanente basis teruggeplaas in skole of volg hulle ABET-kursusse.

Die sentrum is bedags van 07:00 tot 19:00 saans oop danksy fondse van die Departement Maatskaplike Ontwikke­ling.

Die verwydering van kinders op straat word deur ’n magdom landwette en regulasies beheer. Tydens die KKNK sal kinders wat gerapporteer word, deur die SAPD in ’n ongemerkte voertuig na die St Francis Invalsentrum geneem word waar hulle deur maatskaplike werkers geasseseer sal word om te bepaal watter soort hulp hulle moet kry.

Volgens Badenhorst het die kinders wat op Oudtshoorn op straat is, almal ouers of voogde, maar het baie van hulle geen band met hul ouers nie, dikwels omdat die ouers afwesig is.

Hy sê hy hoop dat hulle van die kinders vanjaar in groepe na die Rivierbuurt sal kan neem om hulle op so ’n wyse aan die fees bloot te stel. Die kinders sal ook tydens die fees daagliks kan aansluit by Towerfluitklanke, ’n program van die KKNK wat by die invalsentrum aangebied word.

 


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434