Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Kilometers se sprinkaanswerms in die Klein Karoo

$
0
0

Sprinkane Dinsdag teen ’n voertuig se rooster net nadat dit vanaf Prins Albert op Oudts­hoorn aangekom het. Foto: Robert Koen

SPRINKAANSWERMS wat sedert einde verlede week die Klein Karoo binnegekom het, is dikwels vier tot ses kilometer lank, het boere van die streek die week vertel.

Boere veg sedert Sondag in die omgewing van Ladismith, Zoar, Cal­itzdorp, Kruisrivier, Matjiesrivier en De Hoek om die sprinkaanswerms met spuitstof onder beheer te bring. Sprin­kaanswerms het die laaste maan­de groot vernietiging in die Noord-Kaap gesaai, en einde verlede week vermoedelik via Seweweeks­poort en as gevolg van sterk wind na die Klein Karoo beweeg.

DIE Klein Karoo kan nie na ’n sesjaarlange verwoestende droogte ook nog die impak van sprinkaanswerms op die landbou bekostig nie, sê Laubscher Coetzee, Agri Klein Karoo se verteenwoordiger by Agri Wes-Kaap.

Coetzee sê landbouers staan, sedert die swerms die streek binnegekom het, saam om die sprinkaanswerms verantwoordelik te bekamp en het self ingespring met bespuiting.

“Hierdie is ’n eerste vir die streek. Ons ken nie sulke sprinkaanswerms nie, maar omdat hier baie saadboerdery is in die streek en daar ook wyd met lusern geboer word, weet boere byvoorbeeld om slegs saans of baie vroeg in die oggend gif te spuit sodat bye nie daardeur geraak word nie. Saadboerdery is immers afhanklik van bye.”

Volgens Coetzee wil dit voorkom of die omvang van die sprinkaanswerms in die Klein Karoo tog minder is en in hierdie stadium meer beheerbaar voorkom as byvoorbeeld die sprinkaanswerms wat die laaste maande die Noord-Kaap teister.

“Daar is egter tans die vrees hier dat die sprinkane eiers gaan lê wat volgende jaar kan uitbroei en dan nuwe sprinkaanswerms kan veroorsaak.”

Coetzee sê Tuinroete Rampbestuur het ook gister uitgereik en aangedui dat hulle betrokke wil raak by die bekamping van die swerms.

• Boere met wie Die Hoorn gepraat het, het bevestig dat hulle nie sulke sprinkaanswerms in die Klein Karoo ken nie.

Teen Dinsdag was swerms ook in Kruisrivier en het een groot swerm wat langs die Swartberge af beweeg het verby Kruisrivier en Matjiesrivier tot by De Hoek getrek.

Heelwat sprinkaanswerms is ook noord van die Swartberge aktief, met die Prins Albert-omgewing en Klaarstroom wat al deurgeloop het.

• Oudtshoorn Rampbestuur het vroeër vandeesweek motoriste gewaarsku dat mense op hul hoede moet wees en versigtig moet ry. Sprinkane wat op paaie sit of loop, maak die padoppervlak baie glad, terwyl hulle ook voor in voertuie vasvlieg en lugvloei na die verkoeler van ’n voertuig kan blokkeer en die enjin kan oorverhit.

Lohan Fourie, ’n boer van die Calitzdorp-omgewing, het gisteroggend gesê dit wil lyk of die swerms deur spuitstof onder bedwang gebring word.

Volgens hom het een boer wat egter met tamatieplante en pampoene boer, baie groot skade gely.
Boere wat met lusern boer het ook reeds skade gely.

Volgens Stroebel Nel van De Krans in die Ca­litzdorp-distrik het hulle wel skade gely in hul lusernlande, maar lyk dit gelukkig of die sprinkane nie van die wingerde hou nie en spring hulle na ’n rukkie van die wingerdblare af. (Deur Liesel le Roux)

The post Kilometers se sprinkaanswerms in die Klein Karoo appeared first on Die Hoorn.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434