
Die gebou in Adderleystraat waarin Pasella gehuisves was, is reeds in 1898 gebou. Foto: Stefan Skapie Goosen
’N VERNIETIGENDE brand wat Maandagaand by die bekende Pasella in Adderleystraat uitgebreek het, het die gebou en sy inhoud binne ure heeltemal vernietig. Die gebou, wat in 1898 opgerig is, is die afgelope meer as twee dekades deur Herman en Elna Boshoff bedryf as winkel wat antieke en tweedehandse ware verkoop het.
Die brand het volgens ao Gretchen Michaels, ,woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, omstreeks 21:30 uitgebreek. “Dit is nie bekend hoe die brand ontstaan het nie, en niemand is beseer nie,” het sy gesê.
Volgens Michaels duur die ondersoek na die oorsaak voort nadat twee mans van 34 en 43 jaar oud Dinsdag met goedere uit die winkel voorgekeer is. Die mans kon nie met die brand verbind word nie, maar is in Baron van Reedestraat in hegtenis geneem vir huisbraak en diefstal.
“Die twee verdagtes het sakke met goedere soos porseleinborde, -koppies, houtbeelde en twee stoele by hulle gehad. Dié goedere is deur die winkel se eienaar uitgeken,” het sy gesê.
Quintin Boshoff, Herman en Elna se seun, het Woensdag gesê sy ma is baie hartseer oor die verlies van die winkel, juis omdat haar man op 3 Junie verlede jaar oorlede is. Die winkel was volgens hom reeds byna twee jaar toe, weens die Covid-pandemie en sy pa se siektetoestand, maar die brand is steeds ’n groot verlies.
“Blykbaar het die polisie die aand rook sien trek uit die winkel, en die brandweer en my ma onmiddelik ontbied. Die dak het omstreeks 22:00 inmekaargestort,” het hy gesê.
Quinton sê die familie wag nou vir die voltooiing van die ondersoek na die brand sodat hulle kan weet hoe dit ontstaan het. “Ons bly hoop dat iets goed uit hierdie erge verlies sal kom,” het hy gesê. (Deur Stefan Skapie Goosen)
The post Pasella in puin gelê appeared first on Die Hoorn.