Deur Marlene Malan
OP die hakke van die pas afgelope Prins Albert Kunsfees (PArt 2014) volg dié dorp se Leesfees wat beloof om vanjaar die beste ooit te wees.
Die derde Prins Albert Leesfees, van 7 tot 9 November, het van die land se topskrywers en talle veelbesproke boeke en onderwerpe gelok.
Dit sluit in Francois Smith, wie se Kamphoer onlangs gepubliseer is; asook Dennis Cruywagen met Brothers in War and Peace oor die bekende tweeling Constand en Abraham Viljoen; Thomas Mollett met Bloody Lies oor die onopgeloste en opspraakwekkende moord op Inge Lotz; Eldridge Jason met Gerook, wat handel oor bendes sowel as drank- en dwelmverslawing; Marthie Maré met Legkaart van jou gesig/ Your Face Puzzle oor die invloed van jou gelaatstrekke op jou persoonlikheid; Carol Campbell met Esther’s House, ’n roman oor die agterplaasbewoner Esther Gelderblom van Oudtshoorn; die volkekundige en kultuurkenner Mathilda Burden met haar boek Ou-Kaapse Meubels; Daniel Hugo met sy vertaling van die digbundel Die Roebaijat van Omar Khajjam; asook besprekings van onder meer die nuwe roman van Marguerite Poland, The Keeper, wat deur Hugo as Die Bewaker vertaal is.
Die skrywer Anzil Kulsen en Jason gaan op Vrydag (7 November) spesiale lees-en-skryfprogramme by die plaaslike hoёr- en laerskool aanbied.
Die fees open die Vrydagaand (18:00) met die bekendstelling van die pragboek A Cultural History of Prince Albert: An Album Celebrating the Unique Culture of the Town and its Cultural Landscape.
Volgens die Leesfeeskomitee, onder voorsitterskap van Linda Jaquet, moet jy nou al Vrydag (7 November), Saterdag (8 November) en Sondagoggend (9 November) opsysit vir die aanbiedings in die Jans Rautenbach Schouwburg in De Beerstraat.
Meer inligting oor kaartjies, ’n spesiale boekwinkel vir die duur van die fees, ’n stewige boekesak asook die volledige feesprogram volg.
• Besoek Prince Albert Leesfees op Facebook.