
Nico Human, onderwyser van Hoërskool Zwartberg, wat skielik aan ’n hartaanval oorlede is.
Deur Marlene Malan
VERSLAENTHEID heers by die Hoërskool Zwartberg in Prins Albert oor die skielike dood van een van dié skool se staatmaker-onderwysers.
Dis die derde leerkrag wat die skool binne twee jaar verloor.
Nico Human (54) het twee dae voor die begin van die eerste kwartaal op Sondagaand, 18 Januarie, omstreeks 21:00, in die skoolkoshuis aan ’n hartaanval beswyk.
Vyf maande gelede, in Augustus verlede jaar, het Marika Heyns (51), die koshuismatrone, ook onverwags aan haar hart gesterf. Dit kom ná die dood van Danie Rossouw wat in 2013 beswyk het, ook aan ’n hartaanval.
Human is begin 2014 in ’n vaste pos in die plek van Rossouw vir die vakke tegnologie en siviele tegnologie aangestel, ná ’n jaar van aflos- onderwysers in dié vakature. Heyns, sowel as Human, was inwoners van die koshuis Kroondal.
Die skoolhoof, Rudi McKnight, het sy skok oor die onverwagse afsterwe van Human uitgespreek. Tydens ’n roudiens verlede week, met die opening van die skool vir die 2015- akademiese jaar, is Human as joviaal, standvastig, deelnemend, inspirerend en positief beskryf. Christelle Smit, media-skakelbeampte van Zwartberg, het Human as “absoluut toegewyd, professioneel en ’n bobaas-motiveerder van leerders” beskryf.
“Nico het werklik omgegee vir die kinders.
“Hy laat ’n geweldige leemte by Zwartberg, as mede-opvoeder en vriend. Daar is ’n verslaenheid onder sy kollegas en die leerders.”
Volgens Smit was Human en sy vrou, Susan, vroeër die aand van sy dood op pad na Prins Albert byna in ’n ongeluk betrokke toe ’n koedoe op die Prins Albertweg-pad, so 10 km van die dorp, voor hulle oor die pad gespring het. Die koedoe het hul motor rakelings gemis.
Pas nadat die egpaar in hul woonstel in Kroondal aangekom het, het Human gekla hy voel sleg, inmekaargesak en gesterf.
’n Roudiens is ook verlede Vrydag (23 Januarie) vir Human in Pretoria, waar die gesin voorheen gewoon het, gehou. Hy laat ook drie dogters en kleinkinders agter.