Deur Liesel le Roux
DIE Absa KKNK wil ’n fees wees waar brûe gebou word en staan nie sensuur van kunstenaars voor nie.
Dit is kortlik die reaksie van Suid-Afrika se grootste fees op die ongelukkigheid van Steve Hofmeyr-ondersteuners oor ’n inskrywing op die KKNK se Facebook-bladsy.
Die inskrywing wat verlede week op Facebook geplaas is, lui: “In reaksie op die kommentaar oor die feit dat Steve Hofmeyr nie op ons program is nie: Ons het nie van hom ’n voorstel ontvang om by ons op te tree nie, maar as ons ’n voorstel ontvang het, sou ons dit van die hand gewys het.
“Die Absa KKNK is trots Afrikaans én Suid-Afrikaans en daarom is ons verhoë eerder beskikbaar vir inhoud wat ons help om brûe te bou.
“Omdat daar uiteenlopende menings in die polemiek oor vryheid van spraak versus haatspraak is, moedig ons gesprek hieroor aan. Daarom bied ons ’n debat, gelei deur Freek Robinson, oor die onderwerp aan.”
Die KKNK volg hiermee in die spoor van die Vryfees op Bloemfontein en Inniebos in die Oos-Transvaal wat ook aangedui het dat Hofmeyer nie vanjaar welkom by hul feeste is nie.
Dit volg nadat Hofmeyr verlede jaar met die sing van “Die Stem” by Innibos en later met ’n boodskap op Twitter dat swart mense die argitekte van apartheid was, opslae gemaak het wat tot verdeling tussen Suid-Afrikaners gelei het.
Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK sê die fees gun Hofmeyr sy stem en dat sy volgelinge ook daarop geregtig is om hom te ondersteun.
“Ons het reaksie op ons standpunt verwag. Die Absa KKNK is almal se fees. Ons bied ’n tuiste aan alle Afrikaanssprekendes. Van alle rasse, gelowe en politieke oortuigings. Die feit dat mense dit eien, is belangrik.
“Ons is absoluut ten gunste van vryheid van spraak, maar optrede wat uitsluiting of haatspraak bevorder, is nie op ons program welkom nie. En ons sal dieselfde roete loop met kunstenaars wat in stryd staan met ons Grondwet.”
Snyman het feesgangers genooi na ’n debat oor die aangeleentheid op 6 April van 09:00 tot 11:00 by Arbeidsgenot op Oudtshoorn.
• Twee briewe oor die Steve Hofmeyr-aangeleentheid verskyn vandeesweek op ons brieweblad (bladsy 8) asook ’n skrywe van Snyman wat die briewe beantwoord.
↧
Steve-aanhangers ongelukkig oor KKNK
↧