DIE program vir die 21ste Absa KKNK wat vanaf 3 tot 11 April 2015 op Oudtshoorn plaasvind, is die naweek in die Paarl bekend gestel.
“Met ’n 21ste verjaardag ontvang ’n mens gewoonlik groot geskenke. Om ons mondigwording te vier wil ons eerder geskenke uitdeel. Daarom bevat die program vir die 21ste Absa KKNK geskenke vir ons teatergehoor, Rivierbuurt-besoekers asook die jeug. Dit is ons geskenk aan almal wat die fees die afgelope twee dekades ondersteun,” het Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK, by die bekendstelling gesê.
Altesaam 12 drama- en komedie-opvoerings debuteer vanjaar by die Absa KKNK. Daaronder tel Al julle volke deur Wessel Pretorius, ’n stuk wat kwessies van Afrikanerdom en leierskap aanspreek. Ewe opwindend is die klassieke werke wat in Afrikaans vertaal of vars gedaantes gegee is: Jaco Bouwer se Buite blaf die honde swart is ’n verwerking van ’n klassieke eietydse werk deur Bernard-Marie Koltès wat reeds wêreldwyd in 17 tale opgevoer is; Marius Weyers en Sandra Prinsloo is te sien in Die seemeeu, ’n vertaling van Anton Tsjechof se bekende The Seagull; P.G. du Plessis se welbekende Siener in die suburbs is deur Oscar Petersen verwerk en dan wag daar ook Moeder Moed en haar kinders, Saartjie Botha se interpretasie van Mutter Courage und ihre Kinder deur Bertolt Brecht.
Die fokus is drama, komedie, musiek en visuele kuns, maar ander genres word ook betrek. Elkeen van die bykans 100 produksies is fyn gekies sodat die fees nie net uiteenlopend is nie, maar soos altyd hoë produksiewaardes handhaaf. Die program sluit vanjaar vir die eerste keer in 17 jaar ’n pantomime in, Liewe Heksie: Flower Power, wat beloof om jonk en oud te laat skaterlag.
Musiekliefhebbers kan kies uit 46 produksies in verskeie genres. Schalk Joubert se Al lê die berge nog so blou plaas slawemusiek in ’n moderne konteks met behulp van uiteenlopende sangers soos Bobby van Jaarsveld en Zolani Mahola. Karen Zoid en Kurt Darren sorg vir ’n interessante musiek-kombinasie in Kurt & Karen op klavier en daar is groot buitelugkonserte soos kykNET Silwerskerm Pops en die klassieke werk, Die Vredemakers, op die program.
Die visuele kuns-program is die eerste deur die nuwe kunskurator, Elfriede Dreyer met Berni Searle as feeskunstenaar en groter klem op film en multimedia geplaas.
Onder ander aanbiedinge tel kykNET se fliekfees by twee ver-
skillende venues waarvan een in die buitelug, talle stimulerende gesprekke, lekker doendinge en hope Klein Karoo-gasvryheid.
↧
21ste KKNK bekend gestel
↧