Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5444

Speaker weier mosie

$
0
0

DIE speaker van die Groter Oudtshoorn Raad, John Stoffels, het verlede Vrydag (27 Maart) tydens ’n spesiale raadsvergadering botweg geweier om ’n dringende mosie te laat dien om ’n waarnemende munisipale bestuurder aan te stel.
Stoffels het daarmee nog “tyd gekoop” vir sy NPP-kollega Ronnie Lottering wat onwettig sonder ’n raadsbesluit as munisipale bestuurder waarneem.
Raadslid Julia Krowitz van die DA wat die mosie voorgestel het, het haar op punt 40 van die ordereëls van die raad beroep, maar Stoffels wou niks weet nie.
Stoffels is in sy optrede gesteun deur die burgemeester, Gordon April, en die onder-burgemeester, Vlancio Donson.
April het raadslede ingelig dat hy verlede week die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, besoek het en dat daar gepraat is oor “drie poste”. “Daar is prosesse. Ons het begin met prosesse,” het hy gesê en voorgestel dat die kwessie van die munisipale bestuurder by ’n raadsvergadering van 12 Maart bespreek word. Volgens April sal hy ook ’n volledige verslag indien oor sy besoek aan Bredell.
Krowitz het weer die speaker daarop gewys dat die raad ordereëls het.
“Speaker, dit lyk vir my u wil vir ons almal besluit?” het Johan Fourie (DA) daarop gevra, maar Stoffels het vasgeskop.
“Ek maak ’n reëling ons gaan nie die mosie hanteer nie. Dit is nie vir my dringend nie,” het Stoffels gesê.
By ’n perskonferensie van die DA na afloop van die vergadering het Chris Macpherson, koukus­woordvoerder, Stoffels gekritiseer vir sy “flagrante verontagsaming van punt 40 van die ordereëls”.
• Stoffels se party, die National People’s Party, het net 1 316 stemme in die munisipale verkiesing van 2011 gekry teenoor die DA se 27 058 stemme en die ANC se 24 861 stemme. Stoffels het die speakerpos gekry danksy ’n alliansie wat die ANC na die 2011-verkiesing met die NPP en Icosa ge­sluit het om so die raad te beheer.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5444