Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Skrif is aan die muur, sê Ivan Meyer

$
0
0

Deur Schalk le Roux en Liesel le Roux
DIE brief wat John Stoffels, speaker van die Groter Oudts­hoorn munisipale raad, aan Pravin Gordhan, nasionale minister van samewerkende regering, geskryf het, verbaas hom glad nie, het dr Ivan Meyer, DA-kiesafdelingshoof van Oudts­hoorn, vandeesweek gesê.
Hy het gereageer op ’n brief wat Stoffels aan Gordhan geskryf het na aanleiding van laasgenoemde se onaangekondigde besoek aan Oudts­hoorn op Vrydag, 20 Februarie.
“Die brief verbaas my nie, want Oudtshoorn is ’n tipiese voorbeeld van ’n magstaat. Een van die kenmerke van ’n magstaat is korrupsie en arrogansie. Stoffels het sy hand nou finaal oorspeel, want hy vat minister Gordan nou persoonlik aan.
“Die brief is wat my betref, die tekens van die korrupte raadslede se laaste stuiptrekkings. Dit is letterlik ’n geval van benoude katte wat benoude spronge maak. Die tou trek nou al stywer om die nek van Oudtshoorn se diktators,” het hy gesê.
Meyer het bygevoeg dat met die Wes-Kaapse ANC-leierskap wat vandees­week vir Gordhan gevra het om by die Oudtshoorn munisipaliteit in te gryp, is die “skrif aan die muur”.
• Die Wes-Kaapse ANC het Maandag in ’n persverklaring ’n beroep op Gordhan gedoen om drasties op die dorp in te gryp.
Gordhan is twee weke gelede tydens sy besoek aan Oudtshoorn ook deur talle inwoners versoek om die dorp onder administrasie te plaas.
“Ten spyte van talle intervensies bly die munisipaliteit polities disfunksioneel, met wanadmini­strasie en ’n gebrek aan dienslewering,” het die Wes-Kaapse sekretaris-generaal van die ANC, Songezo Mjongile, gesê. “Die ANC glo dat minis­ter Pravin Gordan in belang van die mense van Oudtshoorn as geheel sal optree.”
Volgens Mjongile het die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, nie die politieke wil of nodige objektiwiteit om die situasie op die dorp op te los nie.
“Pleks hiervan gaan hy voort om die munisipaliteit gerus te stel en te mislei oor die regstellende maatreëls wat nou rampspoedig is.”
Bredell sê egter sy konstitusionele verpligting is om plaaslike regering te moniteer en te steun en dat hy volgens wetgewing slegs mag ingryp by ’n munisipaliteit as daar ’n volkome ineenstorting van basiese dienste is.
Die plaaslike en Wes-Kaapse DA het sedert verlede jaar al verskeie kere gevra dat die dorp onder administrasie geplaas word. Na verneem word, word in die verslag van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) ook aangedui dat administrasie die enigste oplossing vir Oudtshoorn is.
Intussen het Helen Zille se kantoor aan Die Hoorn bevestig dat die Oudtshoorn munisipaliteit na­gelaat het om te reageer op navrae wat Bredell oor die SOE-verslag aan hulle gerig het. Bredell het die munisipaliteit tot einde verlede maand (Februarie) kans gegee om op sy vrae te reageer.
“Minister Bredell, in konsultasie met die toe­paslike amptenare in sy departement, sal nou die verdere nodige stappe doen om te verseker dat die munisipaliteit voldoen aan wetgewing en aan sy eis dat die munisipaliteit reageer op die kwessies wat hy in sy brief vermeld het.”
• Die provinsiale uitvoerende komitee van die ANC in die Wes-Kaap besoek Oudtshoorn Vrydag met die moontlike besoek van ander ANC-hooggeplaastes oor die naweek.
• Die Nasionale Raad van Provinsies besoek Oudtshoorn en ander Wes-Kaapse dorpe sedert gister. Dié raad hou van 13 tot 17 April sy sitting op Oudtshoorn wat deur sowat 400 eregaste be­staande uit onder meer parlementslede en lede van die provinsiale regering bygewoon sal word.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434