
Speaker John Stoffels
Deur Schalk le Roux en Liesel le Roux
HEWIGE kritiek is teen John Stoffels, speaker van die Oudtshoorn munisipale raad, uitgespreek vir ’n ongepoetste, lasterlike brief wat hy aan Pravin Gordhan, nasionale minister van samewerkende regering, geskryf het.
Stoffels het aan Gordhan geskryf na aanleiding van die minister se verrassingsbesoek op Vrydag, 20 Februarie, aan Oudtshoorn. Stoffels dreig selfs die minister met regstappe.
In die brief gee Stoffels valslik te kenne hy skryf die brief namens die munisipale raad. Tydens ’n spesiale raadsvergadering verlede Vrydag het die Groter Oudtshoorn se DA- en ANC-raadslede egter gesê hulle dra geen kennis van die brief nie en het hulle onomwonde daarvan gedistansieer.
Die brief het gebeure tydens Vrydag se raadsvergadering oorheers.
Chris Macpherson, DA-raadslid en woordvoerder, het kort ná die afskop van die vergadering opgestaan en gesê die DA distansieer hom “van die brief wat u namens ons geskryf het”. Hy het gevra dat teen Stoffels opgetree word. Ben van Wyk (DA) het gevra dat dit genotuleer word dat die DA-raadslede hulle van die brief distansieer.
Nondumiso Gunguluza, hoofsweep van die ANC, het gesê die ANC-raadslede weet nie van die skrywe nie en distansieer hulle ook van die brief omdat hulle nie weet wat die inhoud is nie. Sonja Biljohn (ANC) het gesê dit is vir haar kommerwekkend om by die raadsvergadering van so ’n brief te verneem.
Stoffels wou nie ’n bespreking van die brief tydens die raadsvergadering toelaat nie en het herhaaldelik wanneer raadslede dit geopper het, volgehou dit is nie ’n item op die agenda nie.
Hy het onder meer gesê: “Ek sal nie die kwessie oorweeg nie. Moet my nie in die raad dreig nie.” Hy het ook gedreig om raadslede uit die raadsaal te laat verwyder as hulle aanhou daarmee.
• Gordhan het na verneem word teruggeskryf en skerp gereageer op Stoffels se brief. Meer besonderhede oor die inhoud is egter nie bekend nie.
Die DA het in ’n nuuskonferensie ná afloop van die vergadering gesê Stoffels was vermetel om die raad by sy skrywe aan die nasionale minister te betrek en het aangedui dat die party stappe gaan doen teen Stoffels.
“Hy moet ons om verskoning vra dat hy ons betrek het.”
Macpherson het namens die DA ernstig beswaar aangeteken teen Stoffels se beskuldiging in die brief dat die minister “vergesel was van misdadigers” tydens sy besoek aan die munisipaliteit en gesê dié opmerking is lasterlik teenoor die DA-lede wat saam met die minister na die munisipaliteit gestap het.
“Die burgemeester van Oudtshoorn is die enigste raadslid waarvan ons bewus is wat al in ’n hof skuldig bevind is op kriminele klagtes soos aanranding.
“Minister Gordhan het toe hy op Oudtshoorn was, gevra hy wil gesprek voer met belangegroepe. Ons het die versoek eerbiedig in ’n gees van samewerkende regering. Hy het gesê hy is nie hier om politiek te praat nie, maar om te luister. Ons verwelkom die nasionale minister se besoek en die erkenning wat hy aan ons gegee het.
“Dit is die minister se prerogatief om ’n oorsigrol te vertolk en die DA waardeer dit,” het Macpherson gesê.
In die brief loods Stoffels ook ’n skreiende aanval op Hardy Mills, ’n voormalige prokureur van die Oudtshoorn munisipale raad wat hom intussen van die raad gedistansieer het.
Mills het vandeesweek gesê die verwysing na hom is uiters lasterlik en hy gaan beslis regstappe neem. (Uittreksels uit brief verskyn op bl 2 van Die Hoorn.)