Deur Liesel le Roux

Die knope van Freda Muller (66) van Oudtshoorn se hemp is verlede Donderdag afgeruk toe twee aanvallers haar van haar beursie beroof het. Sy het haar hemp tydelik met skuifspelde vasgemaak.
DIE Hoorn was verlede Donderdagoggend skaars op straat met nuus oor ’n aanval op Wynand Fourie (65) deur straatkinders op Oudtshoorn, toe twee mans vir Freda Muller (66) op die parkeerterrein naby die DA-kantoor aangeval en van R180 beroof het.
Net soos Fourie loop die skraal Muller moeilik en was sy klaarblyklik ’n sagte teiken.
Die aanval het plaasgevind toe Muller in haar motor geklim het nadat sy geld by ’n kitsbank in die Checkers-gebou getrek het.
Sy glo die aanvallers het haar dopgehou en agtervolg of trawante gehad wat haar dopgehou het toe sy geld getrek het.
Die Oudtshoorn Polisie het dieselfde middag ’n 28-jarige man in hegtenis geneem wat deur ’n ooggetuie op die parkeerterrein uitgewys is.
Earl Bond het reeds in die hof verskyn op aanklag van roof.
Die saak teen hom is tot 18 Maart uitgestel vir verdere ondersoek.
’n Erg geskokte Muller het na die voorval Donderdagoggend vertel dat sy mankerig en stadig loop as gevolg van ’n gekraakte heup.
Sy sê sy het net haar beursie tussen die twee voorste sitplekke neergesit en oorgelê om die linkervoorruit af te draai, toe sy ’n arm deur die venster sien kom het. Sy wou die ruit weer opdraai om die persoon se arm vas te draai, toe ’n tweede persoon die regterdeur oopgeruk en haar uit die motor probeer pluk het.
Muller sê sy het haar egter erg teengesit en verwoed met haar voete buite die motor vasgetrap. Haar aanvaller het haar toe aan haar hemp gegryp om haar so uit die motor te ruk en die knope van die hemp het in alle rigtings gespat.
“Ek het gegil en om hulp geskree, maar daar was niemand naby wat kom help het nie. Eers daarna het ’n klomp mense kom help.”
Haar aanvaller het net geld uit die beursie gevat en die beursie weggegooi voordat hy hom uit die voete gemaak het.
Muller wat in haar jonger dae as verpleegster en boekhouer gewerk het, sê die geld wat gesteel is, was ’n geskenk van familie.
“Hulle het gehoor ek wil graag my hare laat ‘perm’ en het dit vir my gegee. Ek moes toe nou maar my afspraak by die haarkapster kanselleer.”