Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Kragonderbrekings verlam

$
0
0

Deur Liesel le Roux

1 elektrisiteit Unieplein substasie

Corrie Greeff, senior bestuurder elektriese dienste by die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit (regs), en Hendrik de Beer, superintendent elektrotegniese dienste, verduidelik Dinsdag binne die Unieplein-substasie wat Maandag se kragonderbreking op Oudtshoorn veroorsaak het.

INWONERS van die Groter Oudtshoorn sal moet leer om op warm dae net elektriese toerusting wat noodsaaklik is aan te skakel.

Gebeur dit nie, is verdere kragonderbrekings soos die een wat Maandag en Woensdag Oudtshoorn verlam het, dalk weer inwoners se voorland.

Maandag se kragonderbrekings is veroorsaak deur foute op elektriese kabels op twee plekke op die dorp.

Volgens Corrie Greeff, senior bestuurder elektrisiese dienste by die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, het die kragverbruik Maandag weens die buitensporige hitte so skerp gestyg dat die dorp se Unieplein-substasie en die NA Smit-substasie teen volle kapasiteit moes krag lewer.

Weens die hitte en die groot vraag na krag het ’n gedeelte van ’n kabel naby die Unieplein-substasie omstreeks 11:30 uitgebrand en die middedorp sonder krag gelaat.

Probleme het later ontstaan toe die NA Smit-substasie nie die vraag na krag alleen kon hanteer nie en ’n soortgelyke fout op ’n kabel in die omgewing van Rademeyerstraat plekke elders op die dorp sonder krag gelaat het.

’n Reën- en windstorm laatmiddag het verdere probleme veroorsaak met ’n kragpaal in Bongolethu wat omgeval het.

Krag na dele van die dorp is deur die loop van die middag herstel, maar op enkele plekke, soos in Oudtshoorn-Noord en Bongolethu, was daar teen Dinsdagoggend nog probleme met kragtoevoer.

Munisipale spanne het Maandag deurnag gewerk om foute op die betrokke kragkabels te herstel.

Woensdag se kragonderbreking wat gevolg het op probleme by die NA Smit-substasie, is ook veroorsaak deur ’n toename in die groot vraag na krag, waarskynlik weens ’n skerp toename in die gebruik van lugversorgers omdat dit so ’n buitengewone warm dag was.

’n Kragonderbreking die vorige Woensdag (12 Maart) hou egter geen verband met die week se probleme nie en is veroorsaak deur probleme op Eskom se toevoerlyne vanaf George na Oudtshoorn.

Intussen het verskeie sakemense vandeesweek aangedui dat hulle die kragonderbrekings van die afgelope week reeds aan die sak voel. Verskeie besighede moes sluit terwyl ander nie as gevolg van die kragonderbreking kon funksioneer nie.

Inwoners het ook hul kommer uitgespreek oor die uitwerking van herhaalde kragonderbrekings op elektroniese toestelle soos rekenaars.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434